Voordat jy CTexT® Afrikaanse SkryfGoed 6 begin gebruik, let asseblief op die volgende:
- Funksionaliteit: Om meer te leer van die herkoms en werking van Afrikaanse SkryfGoed 6, kan jy oor die huidige funksionaliteite van elk van die Grammatikatoetser, Speltoetser, Tesourus en Afrikaanse Woordafbreker gaan oplees.
- Instellings om die beste uit CTexT® Afrikaanse SkryfGoed 6 te haal: Sien noodsaaklike instellings vir instellings wat gedoen moet word sodat Afrikaanse SkryfGoed 6 optimaal kan funksioneer.
- Werking: Onderwyl die Speltoetser alle foute in ’n dokument uitwys, rapporteer die Grammatikatoetser slegs een fout per sin op ’n slag. Slegs nadat jy die voorstel vir korreksie aanvaar of afgewys het, word die volgende fout uitgewys.
- Algemene instruksies vir skryfhulpmiddele in Microsoft® Word: Die komponente van Afrikaanse SkryfGoed 6 werk net soos hul Engelse eweknieë. Om te leer hoe om hierdie funksies te gebruik, kyk in die hulplêers van die onderskeie Microsoft® Office-programme:
Microsoft® Word 2007
Microsoft® Word 2010
Microsoft® Word 2013
Microsoft® Word 2016
Microsoft® Word 2019/365
Om te verseker dat CTexT® Afrikaanse SkryfGoed 6 effektief werk, behoort jy die onderstaande instellings in elk van die Microsoft® Office-programme te doen.
Hoe weet jy watter Windows®-weergawe jy gebruik?
- Klik op Start -> Settings -> System
- Klik op About, die weergawebesonderhede sal dan verskyn
Noodsaaklike instellings (klik op elkeen vir die instruksies):
Aktiveer Afrikaans
Stel Afrikaans as verstektaal in vir jou rekenaar
Stel Afrikaans as verstektaal in vir woordverwerkingsprogramme
"Spelling & Grammar"-instellings
Hanteer die lidwoord ’n korrek
Bestaande haakplek in Microsoft® PowerPoint
Waaroor die groot bohaai? (Lees: "Hoekom moes Afrikaanse taalgebruikers so lank wag vir ’n grammatikatoetser?")
Daar is ’n kort en ’n lang antwoord op dié vraag.
Die kort antwoord lui:
• Taal verander voortdurend en selfs gesoute taalversorgers sukkel soms met al die uitsonderings en nuanses.
• Dit is daarom moeilik om reëls te formuleer waarmee ’n rekenaar die mens se taalprosesse kan naboots.
• CTexT® het in 2008 ’n aantal reëls geformuleer en verpak as ’n eerste weergawe van ’n grammatikatoetser. Hierdie grammatikatoetser is in 2011 hersien.
Die langer antwoord lui:
Oor die afgelope paar jaar ontvang ons gereeld navrae oor ’n Afrikaanse grammatikatoetser vir Microsoft® Office. In 2008, na twee jaar se navorsings- en ontwikkelingswerk, was ons uiteindelik gereed om ’n eerste weergawe bekend te stel. In die jongste weergawe het ons die bestaande funksionaliteite verbeter en ’n paar foute uitgestryk.
’n Grammatikatoetser is ’n heel ander saak as ’n speltoetser! Die taak van ’n speltoetser is relatief eenvoudig: daar moet gewoon besluit word of ’n bepaalde woord tuishoort in die woordeskat van die taal of nie, en indien wel, of dié woord korrek gespel is of nie.
’n Grammatikatoetser, daarenteen, moet baie meer kan doen. Aan die een kant moet ’n grammatikatoetser evalueer of die taalgebruik in ’n teks aan die grammatikavereistes van die taal voldoen. Dit sluit sake soos die volgende in:
• Korrekte woordkeuses (Wanneer behoort die woord rys gebruik te word, teenoor die woorde reis of ruis?);
• Los- of vasskryf van woorde (Wanneer is Oom hulle twee woorde, en wanneer word dit met ’n koppelteken geskryf?); en
• Korrekte grammatikale konstruksies (Wanneer skryf ’n mens lelik, en wanneer skryf ’n mens lelike?).
Aan die ander kant moet ’n grammatikatoetser ook bepaal of die teks aan bepaalde stylvereistes voldoen (in welke geval ’n mens na regte eintlik van ’n styltoetser moet praat). Tipiese stylvereistes sluit onder andere die volgende in:
• Leestekengebruik (Moet daar ’n komma voor maar gebruik word?);
• Konsekwente taalgebruik (Gebruik ek soms in die dokument chronologie en soms kronologie?); en
• Aanstootlike woorde (Gebruik ek woorde wat in die meeste kontekste as aanstootlik deur lesers ervaar kan word?).
Vir 'n volledige omskrywing van die grammatikale en stilistiese funksionaliteit van hierdie Grammatikatoetser vir Microsoft® Office, gaan na die geïnstalleerde hulpgids.
Ten einde bostaande te vermag, maak gevorderde grammatikatoetsers van natuurliketaalprosessering, ’n onderafdeling van kunsmatige intelligensie, gebruik om foute te identifiseer. Een manier om ’n grammatikatoetser te ontwikkel, is om reëls vir taalkundige verskynsels uit data te ekstraheer en formuleer; hierdie reëls kan dan deur ’n rekenaarprogram geïnterpreteer en uitgevoer word.
Taal ontwikkel en verander voortdurend, en word deur fyn nuanses en uitsonderings gekenmerk wat dikwels selfs vir gesoute taalversorgers moeilik is om te onderskei en identifiseer. Hierdie besondere eienskappe van taal maak dit moeilik om reëls te formuleer wat ’n rekenaarprogram sal help om die mens se denkprosesse ten opsigte van taal na te boots.
Hierdie Grammatikatoetser vir Microsoft® Office poog om hierdie uitdaging te aanvaar. Ons sê doelbewus poog, omdat dit hoegenaamd nie voorgee om ’n omvattende oplossing vir Afrikaanse grammatika- en stylkwessies te bied nie. Soos in die geval van grammatikatoetsers vir Engels, Nederlands of Duits, is die vermoë van hierdie Grammatikatoetser ook beperk. Om te verwag dat enige grammatikatoetser ’n volledig onsinnige sin soos Die drie man het stoele geskif te korrigeer, is in hierdie stadium van tegnologiese ontwikkeling nog gewoon onmoontlik. Programmatuur soos hierdie is en bly gewoon hulpmiddels om die vaardige moedertaalskrywer te help om taalglipse te identifiseer. Geen grammatikatoetser kan die vernuftige menslike brein vervang nie!
Met betrekking tot omvang van funksionaliteit, is hierdie weergawe van die Grammatikatoetser vir Microsoft® Office ook beperk. So byvoorbeeld word slegs ’n beperkte aantal anglisismes herken, slegs ’n aantal grammatikale konstruksies word hanteer, enkele foutiewe gebruik van leestekens word gemerk, ensovoorts. Nietemin verteenwoordig hierdie program ’n mylpaal in Afrikaanse grammatika- en stylkorrigering. Met jou hulp en bydraes kan ons egter voortgesette ontwikkelingswerk doen ten einde uiteindelik ’n produk daar te stel wat tot jou, ander taalgebruikers en ook Afrikaans se voordeel sal strek.
Baie dankie vir jou belang by hierdie projek, asook vir jou waardevolle terugvoer!
Die CTexT®-span
In hierdie afdeling vind jy inligting rakende die funksionaliteite en beperkinge van die Speltoetser, en oor hoe om jou eie woordeboek te skep waarin jy woorde kan stoor wat nie deur die Speltoetser herken word nie.
Onthou dat jy éérs die noodsaaklike instellings moet doen alvorens jou Speltoetser optimaal sal werk. Dit is veral belangrik dat jy Afrikaans aktiveer as ’n taal op jou rekenaar, en die korrekte vorm van die lidwoord ’n in jou AutoCorrect-lysie byvoeg.
Wat kan die Speltoetser doen?
Wat kan die Speltoetser nie doen nie?
Skep jou eie woordeboek
Stuur jou woordeboek vir ons
Gebruik jy soms dieselfde woord oor en oor in ’n teks en wonder dan: “Is daar nie ’n ander woord wat ek kan gebruik nie?” Of soek jy na ’n meer formele of informele vorm van ’n woord? In Afrikaans, wat ontstaan het uit ’n mengelmoes van tale, is daar dikwels ’n verskeidenheid woorde vir dieselfde gevoel of idee, waarvan slegs één presies die regte woord is. Dit is waar die Tesourus nuttig te pas kan kom: om die regte woord te kies vir gebruik binne ’n spesifieke konteks.
’n Tesourus is ’n tipe “omgekeerde woordeboek” waar dit nie oor die spesifieke betekenisbeskrywing van die woord gaan nie, maar oor die verhouding waarin die woord tot ander verwante woorde en ander betekenisse staan (as ‘t ware die “familie” van die woord). So byvoorbeeld hoort straatkat, wildekat en huiskat saam onder die inskrywing kat, wat weer opgeneem word onder soogdier. Woorde word dus in klasse verdeel op grond van die gedeelde betekenisse en verwantskappe wat tussen hulle bestaan.
Hoewel die Tesourus dikwels sinonieme verskaf, is dit nie dieselfde as ’n sinoniemwoordeboek nie. As jy kat opsoek, kry jy byvoorbeeld verskillende soorte katte. Afhangende van die konteks waarin dit gebruik gaan word, moet jy dus steeds die beste woord kies. Die Tesourus bied egter in baie gevalle alternatiewe wat wel as sinonieme beskou kan word: as jy sien opsoek, kry jy woorde soos waarneem, gewaar of aanskou.
Die belangrikste funksie van die Tesourus is om aan ’n gebruiker alternatiewe woorde te gee om uit te kies. Só kan jy lastige herhalings voorkom deur verskillende woorde met verbandhoudende betekenisse te gebruik. Op hierdie manier skep jy nie net ’n interessanter en lewendiger teks nie, maar brei jy ook sommer jou woordeskat uit!
In hierdie afdeling vind jy inligting rakende die funksionaliteite en beperkinge van die Tesourus, en oor hoe om dit te gebruik.
Wat kan die Afrikaanse Tesourus doen?
Wat kan die Afrikaanse Tesourus nie doen nie?
Aktiveer die Afrikaanse Tesourus
Uitvoer van die Afrikaanse Tesourus
Indien jy wil hê dat woorde outomaties aan die einde van ’n reël afgebreek moet word (byvoorbeeld dat hondekos afgebreek word as honde- kos), moet jy bepaalde instellings maak. Kies die weergawe van Microsoft® Office wat jy gebruik vir instruksies:
Microsoft® Office 2007
Microsoft® Office 2010
Microsoft® Office 2013
Microsoft® Office 2016
Microsoft® Office 2019/365
Vraag: Gestel ek gebruik meer as een taal in dieselfde dokument, hoe gebruik ek die skryfhulpmiddels?
Antwoord: As jy Afrikaans en Engels in dieselfde dokument gebruik, moet jy die Afrikaanse teks deur die Afrikaanse skryfhulpmiddel, en die Engelse teks deur ’n Engelse skryfhulpmiddel toets.
Vraag: Hoe wissel ek tussen Afrikaans en Engels in dieselfde dokument?
Antwoord: Vir instruksies oor hoe om hierdie instellings te maak, kies die weergawe van Microsoft® Office wat jy gebruik:
Microsoft® Office 2007
Microsoft® Office 2010
Microsoft® Office 2013
Microsoft® Office 2016
Microsoft® Office 2019/365
Vraag: Wat doen ek as die Speltoetser nie ’n korrek gespelde woord herken nie?
Antwoord: Voeg die woord self by jou leksikon vir toekomstige herkenning. Wanneer jy woorde teëkom wat volgens jou korrek is, maar die Speltoetser herken dit nie, kan jy vir jou ’n woordeboek skep waarin jy daardie woorde kan sit, sodat dit wel in die vervolg herken sal word. Vir instruksies oor hoe om so ’n woordeboek te skep, kies die weergawe van Microsoft® Office wat jy gebruik:
Microsoft® Office 2007
Microsoft® Office 2010
Microsoft® Office 2013
Microsoft® Office 2016
Microsoft® Office 2019/365
Vraag: Ek wil nie meer hierdie produk hê nie – hoe verwyder ek dit van my rekenaar?
Antwoord: Indien jy nie meer CTexT® Afrikaanse SkryfGoed 6 op jou rekenaar wil hê nie, kan jy dit op die volgende wyse deïnstalleer:
Vir Windows® 7:
- Klik op Start → Programs → Afrikaanse SkryfGoed 6 → Verwyder.
- In die venster wat verskyn, klik Yes.
- Alles wat verband hou met CTexT® Afrikaanse SkryfGoed 6, sal nou verwyder word.
Vir Windows® 8:
- Skuif die muis na die regter hoek van die skerm sodat die opwiplys verskyn.
- Klik op Settings → Control Panel → Programs
- Kies Uninstall a program onder Programs and Features.
- Klik op Afrikaanse SkryfGoed 6 → Uninstall.
- Alles wat verband hou met CTexT® Afrikaanse SkryfGoed 6, sal nou verwyder word.
Vir Windows® 10:
- Klik op Start → Settings → Apps.
- Klik op Afrikaanse SkryfGoed 6 → Uninstall.
- Alles wat verband hou met CTexT® Afrikaanse SkryfGoed 6, sal nou verwyder word.
Vraag: My hele teks is vol rooi skriewels! Hoekom werk die Speltoetser nie?
Antwoord: Die teks is moontlik vantevore met ’n ander speltoetser getoets en dan sal die inligting oor daardie speltoetser nog in die teks se geheue wees. Klik hier vir instruksies om dit reg te stel.
Vraag: Daar is meerdere grammatikale foute in hierdie sin – hoekom wys die Grammatikatoetser net een van hulle uit?
Antwoord: Die Grammatikatoetser merk slegs een fout per sin op ’n slag. Slegs nadat jy die voorstel vir korreksie aanvaar of afgewys het, word die volgende fout uitgewys.
Vraag: Die AutoCorrect-funksie werk nie met die onbepaalde lidwoord ’n nie! Hoe stel ek dit reg?
Antwoord: Die korrekte weergawe is moontlik verkeerd gedefinieer in jou AutoCorrect-lysie. Gaan bestudeer die aanhalingstekens in jou AutoCorrect-lysie. Indien die foutiewe vorm die een met die smart quote of sesvormige aanhalingsteken is, dan is dit waarskynlik die oorsaak van jou probleem. Vee dit uit en tik weer ’n aanhalingsteken en ’n n in.
Lees ook die instruksies vir die korrekte hantering van die lidwoord en volg die stappe noukeurig.