Weens die aard van die Tesourus moet jy in gedagte hou dat dit nie die volgende funksies verrig nie:
- Spel- en grammatikafoute: Die Tesourus kan nie bepaal of woorde reg of verkeerd gespel is nie. As Afrikaanse SkryfGoed 6 geïnstalleer is, sal dit verbeteringe vir verkeerd gespelde woorde voorstel in die tesourusvenster. Hoewel die Speltoetser nie noodsaaklik is vir die Tesourus om te werk nie, beveel ons sterk aan dat jy wel die Speltoetser installeer om te verseker dat korrekte woorde aan die Tesourus gestuur word.
- Betekenisbepaling: Die Tesourus weet nie wat die konteks van ’n bepaalde woord is nie en kan daarom nie kontekssensitiewe alternatiewe voorstel nie. Die verskillende betekenisonderskeidings van ’n bepaalde woord is ook nie noodwendig in volgorde van belangrikheid ten opsigte van die bepaalde versoek opgestel nie. Die verantwoordelikheid om die regte keuse te maak uit al die voorstelle wat die Tesourus gee, berus daarom steeds by jou.