Die speltoetser werk slegs op Microsoft® Office en vereis Microsoft® Windows as bedryfstelsel. Die speltoetser sal nie op Open Office of Office for MAC werk nie. Verwys na die minimum vereistes by produkinligting.
Die Afrikaanse speltoetser is, net soos die Engelse speltoetser, ʼn inprop-program wat in Microsoft® Office werk. Jy hoef dus nie die speltoetser oop te maak of ʼn aksie uit te voer om die speltoetser te aktiveer nie. Jy moet bloot die teks wat van toepassing is merk en jou taal verander na Afrikaans om die speltoetser te aktiveer. Die taal kan verander word deur te dubbel-klik op die taal wat aangedui word in die middel aan die onderkant van Microsoft® Word, op die statusbalk (die balkie wat die bladsy en ander inligting van die speltoetser aandui).
Omdat Microsoft® Word meer as een speltoetser in dieselfde dokument kan gebruik, is dit belangrik om jou hele dokument te merk kies (as jy net die Afrikaanse speltoetser wil gebruik in die dokument) deur die Ctrl-sleutel in te hou en dan A te tik op jou sleutelbord. Verander dan die taal na Afrikaans soos beskryf in bogenoemde antwoord. As jy nou enige plek in jou dokument rond beweeg, bly die speltoetser op Afrikaans. As jy die dokument stoor, sal Microsoft® Word onthou dat jy die Afrikaanse Speltoetser gebruik in die bepaalde dokument.
Hierdie oplossing werk vir Microsoft® Word. Volg asb. die volgende stappe:
- Selekteer die toepaslike teks.
- Klik op “Review”
- Klik op “Language”
- Klik op “Set Proofing Language”
- Selekteer jou voorkeurtaal op die kieslys onder die opskrif “Mark selected text as”
- Klik op “OK”
Nou hoef jy in die toekoms slegs die gedeelte van die dokument waar jy die taal wil verander te kies, en dan op die beskikbare lysie die taal van jou keuse te kies. So maklik soos dit.
Jy moet onthou dat ʼn dokument gestoor word met ʼn speltoetser voorkeur. As jy dus nog nie ʼn Afrikaanse speltoetser gebruik het nie, sal die voorkeur Engels wees en sal ʼn mens die spesifieke dokument eers moet stel na Afrikaans toe en dan weer stoor.
Die maklikste manier is soos volg: In jou Microsoft® Word program, klik op “Tools - Language - Set Language”. Kies dan die taal wat jy wil gebruik. Klik dan ook op die "Default" knoppie. Dit sal die taal dadelik verander en ook verseker dat enige nuwe dokument daardie taalvoorkeur sal gebruik vir die speltoets.
Die maklikste manier om te sien of jou Office-pakket versoenbaar is, is om in jou Microsoft® Word program in te gaan. Op nuwer weergawes van Microsoft® Word, klik op "File - Account" en kyk onder "Product Information". Ouer weergawes van Microsoft® Word het nog die "Help - About" opsie om jou weergawe se inligting te kry.