Geplaas deur Gerhard van Huyssteen op Viva
Vrydag 18 Januarie 2019
Vra Ockie daar uit die Vrystaat uit: “Neem ek ʼn besluit, of maak ek ʼn besluit? Dit wil vir my voorkom dat die volkstong meer en meer daarna neig om ‘besluite te maak’. Vir my is die gebruik van ‘maak ʼn besluit’ so platvloers, terwyl die gebruik van ‘neem ʼn besluit’ soveel meer uitdruk as wat werklik bedoel word. Wat is jou mening?”
My mening? Wat vir een iemand platvloers is, is dit nie noodwendig vir ʼn ander nie. Ek meet byvoorbeeld nie platvloersgeit aan die verskil tussen “maak” en “neem” (en “doen”) nie; veel eerder aan iemand wat met ʼn oop mond kou. Maar dis maar net ekke; elkeen is geregtig op sy/haar eie platvloermeter.
En om darem te wys dat Ockie hom in goeie geselskap bevind, haal ek aan uit Spies en Combrink se Sakboek van Regte Afrikaans uit 1994: “Mense wat onverfynd praat, gebruik dikwels ‘maak’ waar dit ‘doen’ moet wees,” soos byvoorbeeld “ʼn belofte maak” in plaas van “ʼn belofte doen”. Die volgende sin uit ʼn preek is dus streng gesproke verkeerd: “Ons het dit vanoggend pragtig hier in die doop gesien, God wat klinkklare beloftes maak!”. Dit moet eerder wees: “God wat klinkklare beloftes doen!”
Vir my as doodgewone moedertaalspreker val laasgenoemde tog woes vreemd op die oor. Ek ken maar net beloftes wat gemáák word. Is ek heeltemal skuinsvloers om so te dink?
Gelukkig nie! In ʼn groot versameling (semi)geredigeerde tekste kom “belofte doen” in slegs 8% van die gevalle voor, teenoor die 92% “belofte maak”-gevalle. In informele tekste kom “belofte doen” glad nie eers voor nie: “Belofte maak” verteenwoordig 100% van die gevalle. Soos die Engelse sê: #nufsaid.
Nou kan ons dieselfde met Ockie se vraag doen. Alle normatiewe bronne tot my beskikking, en hierdie keer inklusief my eie kennis en intuïsie, bevestig dat jy “ʼn besluit neem”. Trouens, ek het selfs heimlik gedink Ockie probeer sommer snaaks wees om enigsins aan die hand te doen dat “besluit maak” voorkom. Ek dink nie ek het dit al ooit gehoor nie?
Dus gaan grawe ek weer om te sien wat die volkstong doen. In die (semi)geredigeerde bronne is 8% van die gevalle “besluit maak”, teenoor 92% “besluit neem”. Tot so ver stryk dit … Maar in die informele tekste sien ons dan wel die ontluikende patroon waarna Ockie verwys: “Besluit maak” kom hier reeds in 24% van die gevalle voor. Dit is gewoon ʼn beduidende proporsies wat ons nie kan ignoreer nie.
Gevolgtrekking? 25 jaar ná Spies en Combrink se stelling oor “belofte doen/maak”, het die taal radikaal verander. Ons kan voorspel dat dieselfde met “besluit neem/maak” gaan gebeur.
Of ʼn ander gevolgtrekking? Dalk was die volkstong nog maar altyd reg …
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 18 Januarie 2019 verskyn.