onderhou deur BlueTek

+27 (18) 297 0164 verkope@spel.co.za

Is ons aan die ‘digitiseer’ of ‘digitaliseer’?

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen op Viva
Vrydag 04 Januarie 2019

Terwyl almal nog ter strande is, skryf ek maar ʼn bietjie vir die bleeksiele wat al hierdie week agter hulle kompers en ander digitale toestelle moes inskuif.

Die woord “digitaal” is lank reeds in Afrikaans en ander Germaanse tale bekend. Oorspronklik ʼn afleiding van die Latynse “digitus” wat “vinger” beteken, het dit in die sestiende eeu verwys na dit wat betrekking het op vingers. Ook Afrikaans het vroeër slegs dié betekenis geken, soos in 1955 in die WAT opgeteken:

digitaal’ b.nw. Wat op die vingers of tone betrekking het: Digitale eksplorasie, ondersoek van die liggaamsholtes met die vinger. (!!!)

Digitaal in die WATPas later – hier in die 1960’s en 1970’s – ontstaan by ons die betekenis dat “digitaal” te make het met syfers (soos die tien vingers aan jou hand), en nog later ontstaan die betekenis dat dit te make het met stelsels en tegnologieë wat nie analoog is nie. Vandag is “digitaal” en “elektronies” byna sinonimies; dis waarskynlik net deskundiges wat duidelik sal weet waar om die grense tussen die twee begrippe te trek.

ʼn Desgevolglike nuwigheid is dat ons goed wat analoog is na ʼn digitale formaat kan omskakel. Is ons dan besig om te “digitiseer” of te “digitaliseer”?

Toe die Taalkommissie in voorbereiding op die 2017-AWS oor “digitiseer”/“digitaliseer” moet besluit, was daar nog geen betekenisspesialisering by enige van die twee woorde te bespeur nie. Onses insiens kon hulle gewoon as wisselvorme gebruik word, na die patroon van “maksimaliseer” of “maksimeer”; “minimaliseer” of “minimeer”; “optimaliseer” of “optimeer”. Morfologies gesien is dit so te siene dus onproblematies.

Soos wat tegnologie ras verander, so verander taal ook, want intussen het daar wel in die vakgemeenskap ʼn betekenisspesialisering ingetree.

“Digitiseer” verwys na die eerste stap om ʼn voorwerp (byvoorbeeld boek, klankopname of videoband) na ʼn digitale formaat om te skakel; die stap om van papier/analoog na digitaal te gaan. Dit is ʼn eenvoudige, relatief goedkoop proses wat in beginsel deur enigeen met die regte toerusting onderneem kan word.

Op sy eenvoudigste kom dit daarop neer dat jy met jou telefoon ʼn foto van byvoorbeeld ʼn koerantartikel neem. Die resultaat is ʼn redelik statiese weergawe van die oorspronklike dokument: Jy kan met dié digitale lêer weinig doen, behalwe om dalk ʼn bietjie aan die kleur en so te torring. Die groot voordeel is egter dat jy dit nou op jou rekenaar (en nie in ʼn plakboek nie) kan stoor.

“Digitaliseer” verwys na ‘n tweede, meer ingewikkelde stap wat met meer gespesialiseerde programmatuur uitgevoer word, soms nog met mensehande waar en wanneer die programmatuur faal.

Een van die belangrikste onderdele van digitalisering is optiese karakterherkenning (OKH; in Engels “optical character recognition” en “OCR”), waar ʼn PDF-dokument sodanig verwerk word dat die geskandeerder letters as redigeerbare teks beskikbaar is. Dit beteken dus dat ʼn mens deur só ‘n PDF kan soek met jou programmatuur se soekfunksie, jy sou die PDF-dokument kon omskakel na ʼn Worddokument, ensovoorts. Dit is dus een stap verder as om net te digitiseer.

‘n Ander stap in sommige gevalle is om ʼn gedigitiseerder dokument om te skakel na ʼn databasis. Ons doen dit dikwels met papierwoordeboeke, sodat jy uiteindelik die data in ʼn databasisformaat kan kry.

Een van die stappe wat ná digitalisering volg, is natuurliketaalverwerking, soos om die dokument outomatiese van woordsoortetikette te voorsien, ʼn woordelys van die data te maak, ensovoorts. Pas dan raak teksdokumente interessant vir die digitale bleeksiele van die een-en-twintigste eeu.

Dié betekenisonderskeid geld natuurlik maar net in die kringe waar ek werksaam is. Dalk gebruik julle dit anders in jou nywerheid of vakgebied? Laat hoor gerus van jou.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 04 Januarie 2019  verskyn.

Beeld logo