onderhou deur BlueTek

+27 (18) 297 0164 verkope@spel.co.za

Wys my hoe jy spel, dan sê ek vir jou wie jy is

Geplaas deur Sophia Kapp op VivA:

ʼn Kollega plaas ʼn rukkie gelede ʼn aanhaling van Bill Bryson op ʼn taalforum. Dit lui:

Two days before I left on the trip, I Googled ‘Favo’loso Cafe’ … I was appalled to discover that most people didn’t view it very favourably at all. One recent visitor pronounced himself “Dissapointted” with the experience. Well, here is a new rule: if you are too stupid to spell “disappointed” even approximately correctly, you are not allowed to take part in public discourse at any level.

We live in a world that has practically no appreciation for quality, tradition or classiness, and in which people who can’t spell even common words get to decide what survives. That can’t be right, surely. I was, as a TripAdvisor correspondent might put it, deply trubbled.

 

Ek hoef seker nie hier te sê wat die reaksie op die plasing was nie. Die kollega en Bill Bryson is oor die kole gehaal oor hulle spellingsnobisme, en iemand was namens almal met disleksie geaffronteer oor onverdraagsaamheid en Mense se Totale Gebrek aan Deernis. Ek ken nie vir Bill Bryson persoonlik nie en gaan hom nie verdedig nie, maar ek ken my kollega en weet darem hy is nie aan een van die aantygings skuldig nie.

Die opstootjie het my egter aan die dink gesit: Dit is nie die eerste keer dat kritiek oor spelling mense kwaad maak nie, en die geskil draai elke keer hier kort duskant bloedvergieting. Dit het my laat wonder wat die geskikte reaksie op Bill B se uitlatings behoort te wees. Wat is die plek en rol van spelling, en hoe moet ons dink oor mense wat nie dié vaardigheid (kan) bemeester nie?

Om dit te kan doen, moet ʼn mens eers terugtree en weer besin oor wat taal is en waarvoor ons dit gebruik.

Vir my is taal soos klere – dit is (lank, lank gelede) in die eerste plek geskep as ʼn instrument waarmee ons in hierdie wêreld moet oorleef. Ja, dit is presies hoe belangrik die twee goed is: Sonder klere is ons aan die elemente uitgelewer; sonder taal het ons geen manier om met mense te skakel nie. Kyk maar hoe sukkel dit as ʼn mens met buitelanders wat nie Engels magtig is nie moet kommunikeer. Ek het een keer in my lewe in Hongkong by ʼn restaurant weg van die gewone toeristebestemmings probeer kos bestel. As ʼn gawe tantetjie haar nie oor my ontferm het en beduie het dat ek liewer die gereg in die rooi bakkie moet bestel nie, het ek waarskynlik kakkerlaksop vir aandete gehad en dit nie geweet nie. Glo vir my, sonder taal kan dinge lelik lol.

Maar, soos klere, het taal met die tyd saam bykomende betekenis gekry wat nie meer net op die vlak van oorlewing lê nie. Klere beskerm ons nie net nie, dit gee ook ʼn klomp goed van ons te kenne: Dit merk ons as lede van ʼn bepaalde kultuur, dit sê vir mense hoe oud ons is, aan watter gender ons behoort, hoeveel geld ons het (ja, ons wys af met ons klere), en verklap selfs waar ons woon: Durbaniete het nie sommer jasse nie, Kapenaars se jasse is reënbestand, en Bloemfonteiners se jasse het diep sakke waarin jy jou hande kan steek sonder om jou handskoene uit te trek. As jy in die middel van die winter met ʼn T-hemp en ‘n kortbroek rondloop, is jy waarskynlik ʼn student op Tukkies, as jy in die somer ʼn trui en ʼn mus aantrek, is jy ʼn Zoeloelander wat ʼn koue front oorleef.

So werk taal ook: As jy sê jelp in plaas van help, lê jou wortels in die Kalahari. As jy nog sê vanmelewe of almaskie is jy waarskynlik ouer as sestig. As jy sê want sy is cool soos dit, is jy waarskynlik jonger as twintig. As jy praat van die ou babatjie is jy waarskynlik ʼn vrou, en as jy praat van jou gabba is jy waarskynlik ʼn man. As jy woorde soos diglossie, kreool en geolek in jou aktiewe woordeskat het, is jy waarskynlik ʼn variasietaalkundige, en as jy weet wat betekendesalnietemin is jy waarskynlik op die Taalkommissie. Ons taal merk ons, of ons dit nou wil weet of nie.

Soos wat ons ons kleredrag aanpas by die geleentheid, so pas ons ons taalgebruik aan. Ons dra nie hofskoene en ʼn aandrok op die strand nie; ons dra nie ons oudste sweetpak kerk toe nie. Dieselfde persoon mag albei dié uitrustings besit, maar gaan kies wanneer en waar albei gepas is. Nee, niemand gaan iemand met ʼn gestremdheid kwalik neem dat hulle kisklere anders lyk as ons s’n nie. Nee, niemand gaan iemand met ʼn gebrek aan geleenthede kwalik neem dat hulle uitgaanklere nie Chanel-skeppings is nie. Maar as jy die tyd, geld en geleentheid het om gepas aan te trek en jy daag met flenters aan jou bas by ʼn openbare geleentheid op, gaan die wenkbroue lig.

Net so werk taal. Jy mag op die strand praat nes jy wil, maar as daar ʼn aandrokgeleentheid is en jy praat verflenterde sweetpak, gaan die wenkbroue lig. As jy, met woordeboeke en speltoetsers tot jou beskikking, op ʼn openbare forum slordig skryf, moet jy vir lief neem dat mense jou gaan kritiseer.

Wat ons nié mag doen nie, is om oordele oor mense se karakter te maak op grond van wat hulle aantrek of hoe hulle skryf. Iemand is nie dom, sleg of onaangenaam omdat hulle nie netjies aantrek of sleg spel nie. Hulle menings is nie ongeldig nie, en hulle demokratiese reg om aan openbare debatte deel te neem, mag nie ingekort word op grond van hulle voorkoms of hulle spelling nie. En die slegte gewoonte van sommige gespreksgenote om iemand oor hulle spelling aan te val as dié persoon se standpunt hulle nie aanstaan nie, is sommer net gemeen.

Daarom moet ek nou ongelukkig, so veel as wat ek van meneer Bryson hou, van hom verskil. Selfs ʼn gebruiker wat dissapointted” skryf, mag aan ʼn openbare debat oor ʼn restaurant deelneem, en ek mag nie die gebruiker se karakter of integriteit aanval omdat sy/haar spelling vrot is nie … Wat ek wel mag doen, is om te besluit hoeveel ek my aan iemand wil steur wat, met woordeboeke en speltoetsers tot sy/haar beskikking, met flentertaal aan ʼn openbare debat deelneem.

VivA-groete

Sophia