onderhou deur BlueTek

+27 (18) 297 0164 verkope@spel.co.za

Spelling is soms taf

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen op VivA:

Afrikaanse spellingkoors het so ongeveer drie, vier jaar gelede landwyd uitgebreek. Die Sanlam WOW Spelfees en die ATKV Spelathon vir skoolkinders, die slimfoontoepassing Beter Afrikaans en kykNET se Op die Spel-program is ʼn paar van die simptome van dié endemie.

Een van die mees pertinente vrae van spelkompetisies (en onderwysers, skrywers en uitgewers) is: Hoe word die moeilikheidsgraad van ʼn woord bepaal? Is die woord “penisillien” maklik, gemiddeld of moeilik om te spel? Op watter ouderdom kan ek van iemand verwag om “frikkadelle” korrek te spel? (Ek is swaar middeljarig en kan dit tot vandag toe nie spel nie!)

Uit internasionale navorsingsliteratuur kon ek tot dusver meer as sestig (ja, 60!) faktore identifiseer wat ʼn rol speel in die bepaling van woorde se moeilikheidsgraad. Allerweë stem navorsers egter saam dat die volgende drie faktore die belangrikste aanduiders van ʼn woord se moeilikheidsgraad is:

  • Frekwensie: Hoe meer gereeld ʼn woord in ʼn verskeidenheid tekste voorkom, hoe makliker is die woord om te spel. Al het ʼn woord soos “familie” ʼn paar vangplekke, behoort die meeste mense dit korrek te spel, aangesien dit een van die 500 mees frekwente woorde in Afrikaans is.
  • Woordlengte: Hoe korter ʼn woord is, hoe minder sal mense sukkel om dit te spel. Gebaseer op ʼn groot korpus van Afrikaans, weet ons dat die gemiddelde woordlengte in Afrikaans 10,7 karakters is. Ons kan dus verwag dat enige woord met nege of minder karakters relatief maklik moet wees om te spel: “satelliet”, “assessor”, “krokodil” en “baseer” behoort dus min probleme op te lewer.
  • Die verhouding tussen die skrifbeeld (letters) en uitspraak (klanke): Hoe groter die passing tussen die letters en klanke van ʼn woord, hoe makliker kan iemand die woord spel. Die woord “kram” word foneties getranskribeer as [kram] – daar is ʼn een-tot-een-passing tussen die letters en die klanke, en dit behoort dus maklik te wees om te spel. ʼn Woord soos “chihuahua”, uitgespreek as [ʃiwawa], is besonder moeilik: Daar is nege letters, maar slegs ses klanke; boonop kom slegs die “i” en [i] en die “a’s” en [a]’s met mekaar ooreen. Party mense kan ook nog wonder of dit dalk met ʼn hoofletter geskryf moet word.

Dit is maar net die oortjies van die seekoei. Woorde met die sogenaamde schwaklank (die [ə] in [krɔkədəl]) verskaf talle hoofbrekens, verdubbeling van konsonante (“krokke” maar “krokodil”; “krokodille” maar “monnike”), konsonantverwarring (“vier” teenoor “fier”, of “rand” versus “rant”), ensovoorts. En dan praat ons nie eens van los-of-vas-probleme nie: Is dit “weereens” of “weer eens”, of is beide korrek? Hoekom is dit “onderweg” maar “op pad”?

Deur middel van ʼn blitsopname op Facebook het ek meer as honderd woorde ingesamel waarmee mense stoei. Hier is die toptiensukkelwoorde wat deur die meeste mense as problematies aangedui is:

(10) parallelle(9) adres

(8) weereens of weer eens (beide is korrek!)

(7) professor

(6) verrassing teenoor verassing

(5) op pad

(4) huis toe

(3) komitee maar kommissie

(2) onmiddellik

(1) interessant

Kan jy nog woorde tot die lys toevoeg?

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 19 November 2016 verskyn.